top of page

Ma (stektomie)

*uit 'Ma' deur Antjie Krog
 

Kierang-kierang ek vannaand
vat hier by Ingrid Jonker,
gaps gulsig by Antjie Krog.
My eie woorde voos geslaan
tussen vuur en as en stof

 

Uit hierdie Hebron wil ek ontvlug
en dink my teen jou bors terug
lê loer na paaie waar ons eens was
en sing my jare teen jou vas

 

Die dink aan more het 'n kobalt-klank
my gebede slaan vas teen plafon en muur
Huil ek droog-oog weg die tyd
kap leë hande teen God en uur

 

Vra nie vir myself -
vir die oorlas van my seer -
blaf dom-onnosel teen wind en weer

 

Ja. Ek is die kind wat rebels rondtas.
Tussen splinters van die pendulum waar ons eens was.
Die lyke van onthou tussen gras en wier.
Waar wonderwerke suinig aan nat riete skuur.

 

Die plafon sal meegee
mure verkrummel soos Jerigo van ouds
my lomp gebede, opreg gestuur
ontvang word op die bepaalde uur,

 

want Ma,

 

* "jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God.
jou moesie-oor is my
enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater teen die lewe"

 

jou bors my enigste kinder-skuiling.
ek offer jou vir my Here God.
 

bottom of page