Kan ‘n man dan nieee…?
Vir koek sien die meeste Afrikaners kans. Of dit nou jou pet’tees koek is of nie.
Deegkoek, vleiskoek, groot koek, klein koek, wit koek, bruin koek, maar die lekkerste bly maar ‘n gebrande koek.
Van my kleintyd af al het Ouma Neethling die kleinkoekies, wat ná die groot Krismis gebak so ietwat aan die bruinerige kant uitgekom het, eenkant in ‘n blik gehou. In my kinderkop was daai blik met die groen strepe nét vir my eenkant gesit.
Hoe dit ookal sy, wanneer ek my tanne in daai brand-kleinkoekies ingeslaan het, was my oë alewig groter as my pens.
Ma vertel sy was nog klein, hier in Sub B rond, toe dit weer tyd geword het vir die groot gebak.
Daar was mos hoeka ‘n hele lappie kinders wat alewig gevoer moes word, so ‘n enamel-skottel was nie groot genoeg vir so ‘n trapsel deeg nie. Ouma het ‘n propperse sinkbad gehad wat uitsluitlik vir die doel van deeg aanmaak was, en hierin is die basiese deeg vir die kleinkoekies toe aangemaak op daardie dag – ‘n dag wat van toe af aan in die binnekringe van die mans in die familie bekend sou staan as die ‘dag van die moer’ske manne’.
Net na die deeg klaar gemaak was, kry Ouma toe woord dat sy moet vort Montagu toe om haar pa, wat skielik siek geword het, te gaan versorg. Nou kyk, niks is vermors daardie jare nie, en so vertrek Ouma vanaf die plaas op Nuy na Montagu, maar nie voor sy aan my Oupa verduidelik het hoe om die koekies te bak nie.

My moeder, jare na haar oor'le pa
sy seuns alles en nog wat geleer het
wat 'n man moet weet van koek.
Hoe mens dan nou ook ‘n mansmens wat heeldag in die wingerde was vertrou met ‘n bad vol deeg, sal ek nie kan sê nie, maar so was dit. Jy mors nie kos nie. Oudste van die seuns het dit Oom Siebert toe te beurt geval om Oupa Neethling se regterhand te wees, met sy jonger broers Piet en Alex as handlangers.
In die begin gaan alles toe voor die wind soos ‘n afgelekte meisie – maklik en seepglad.
Die koolstoof bly warm soos hy moet en pa en seuns bak die mooiste kleinkoekies denkbaar, maar iewers op ‘n kol raak hulle toe gatvol vir die spul deeg. Die hele proses vat net te lank, en tipies van baie mansmense, wat gebore skiemers is, vra hulle toe die onafwendbare vraag “Kan ‘n man dan nieee…?” Soos baie van hulle geslag skiem hulle toe hulle is cleva en net daar issit vi’by met Doris Day.
Die klein petite glasies waarmee die koekies uitgedruk is word opsy gestoot en die deeg word sommer summier ‘n duim-dik uitgerol. Propperse koeke word uitgedruk in daai plaaskombuis. Koeke gemaak vir ‘n man, nie ‘n muis. Sommer so met die deksel van die tafel-melkemmer. Daar pas nou wel net twee op ‘n bakplaat, maar die deeg sak darem vinniger.
Oom Piet vertel dat dit ‘n prentjie is wat hy nooit sal vergeet nie. Voor hulle oë word koeke uit die koolstoof gehaal – sommer sulke groot koeke.
Later is selfs dit toe nie meer na hulle sin nie, want die tyd stap aan en die sinkbad is soos die weduwee se kruik – jy kom net nie by die bodem uit nie.
Hier op ‘n kol word Oupa toe só clever van die skiemery dat hulle soos een man besluit dit sal nóg vinniger gaan om ‘manne’ uit die deeg te sny. Hulle sny eers kleinerige groot-manne uit, maar die stel hulle later ook nie meer tevrede nie, en hoe donkerder die nag word, hoe groter word die deegmanne.
Later het hulle so aangegaan met daai deeg, dat daar op ‘n kol net een man op ‘n pan ingepas het.
So erg rys daai manne dat as hulle op die bed gelê het, hulle albei kante sou afval van vetgeit.
Elke kleintjie het net nodig gehad het om ‘n toon of ‘n vinger te eet, dan was hulle trommeldik.
Voor die uur om was, was die deeg toe ook op.
Is true my broe!
Nou wat Ouma van die biessigheid te sê gehad het kan niemand onthou nie, maar ek vermoed hulle het die evidence opga’vriet voor sy van Montagu af teruggekeer het.
Hoeveel mense bak nog kleinkoekies? Ek doen nog so van tyd tot tyd as die gier my pak, maar een ding kan ek vandag hier sê – na dié storie het ek nooit as te nimmer weer na ‘n kleinkoekie gekyk met dieselle oë nie – en na ‘n gemmerbroodman nog minner.
Outydse Soetkoekies (soos ek vermoed Ouma dit gemaak het)
Meng 3 koppies suiker en 340 gram botter of margarien baie goed.
Klits 4 eiers en gooi by die suiker/botter mengsel saam met sewe koppies meel,
2,5 – 3 teelepels bakpoeier,
‘n klein bietjie vanieljegeursel en ‘n knypie sout.
Meng goed tot dit ‘n stywerige deeg vorm.
Nou kan jy dit uitrol en uitdruk of dit oprol en ‘n rukkie in die yskas sit.
Sny dit dan in sirkels.
Plaas op ‘n gesmeerde bakplaat en bak vir so 10 minute by 220°C tot baie ligbruin.
Hou dit maar dop, want hier na die tweede baksel in is, is hulle geneig om sommer binne 8 minute al reg te wees.
Laat afkoel op ‘n draadrak en pak in blikke.
Maklike gemmerkoekies
Ek kan nie onthou waar ek die volgende resep gekry het nie, maar dit is sowaar van die maklikste gemmerkoekies ooit – en heerlik!
Smelt 200ml botter en 250ml stroop in oor lae hitte in ‘n diep kastrol.
Sodra dit afgekoel het, klits drie eiers daarby in.
Roer 625 ml bruinsuiker by.
Voeg nou 5 koppies (ongesif) koekmeel,
20 ml koeksoda,
20 ml kremetart,
5 ml sout en 50 ml fyn gemmer by mekaar, roer deur en meng goed met die ander bestandele.
Nadat dit vir so ‘n uur tot twee gestaan het rol jy klein bollietjies daarvan uit.
Sit op ‘n gesmeerde bakplaat en druk dit effens plat met ‘n vurk.
Bak vir 10 – 12 minute by 180°C.