top of page

Die mannetjies trek draad

Kleintyd reeds, voor ek my tanne in broodpampoen ingeslaan het, het ek die stukke brood uitgegrawe en eenkant toe gestoot op die bord. Als so op ‘n hopie vir laaste hou. Dis mos hoe kinders maak – die ‘vir laaste hou’ is mos ekstra lekker.

 

Ek haat die geskillery, maar daar is vir my niks lekkerder as om te kyk hoe ma dit doen nie. Natuurlik het my gesit langs die tafel so met die pampoenskillery, meer te make gehad met die pampoenpoppies. So deur die werkery heen, het ma vir my woerts-warts ‘n hele gesin pampoenpoppies uit die skil gesny. Vir dae daarna het al wat winkelpop is vergete op die werf onder die akkerboom gelê, terwyl die pampoenpoppe orals saamgepiekel is, selfs bed toe.
Na so ‘n paar dae het hulle almal meer rimpels gehad as ‘n hoenner om haar oeffel, maar die enigste manier wat ma hulle kon afvat, was om weer pampoen te kook.  Vir die res van my dae hier op aarde, sal ek nooit ‘n pampoenskillery dophou en nie ma se hande sien nie. Hande wat pampoenpoppies kon sny.

 

Ma kook elke dag en vandag moet daar broodpampoen gemaak word.

“Daar moet ‘n wyfie pampoen ingebring word,” maan ma so met my uittrapslag by die agterdeur “Die mannetjies trek draad.”
Ek steek terstond in my spore vas en kyk ma aan met ‘n oop bek soos ‘n gaar vis, maar okkie vi lankie, want eks mos’sie op my bek geval nie.
“Ja ma, ek weet al hoeka van die mannetjies, maar wat het dit met pampoen uit te make?”
Ma verduidelik dat ‘n mannetjiespampoen net ‘n ketotteltjie bo op het, en dat ‘n wyfie ‘n ketotteltjie én so ‘n groot ronde sirkel het rondom die ketotteltjie. “Nes tette,” sê sy.

 

En so het die dag aangebreek wat ek die verskil tussen ‘n mannetjies-en-wyfie pampoen móés leer – of ek dit nou wóú weet of nie.

Volgens ma is al wat mannetjies-ding is, wat met kos te make het, aan die afferige kant. Maak nie saak of dit nou ‘n beer vark is wat na ‘n willewragtig proe, of ‘n mannetjies boerpampoen wat draad trek nie.
 

En sowaar, ek moet sê dat reg van die snyslag af daar ‘n duidelike verskil is – draderig is hy. Die wyfie sny so glad en maklik.
Kook jy hom dood sal jy seker nou nie die verskil proe nie, maar gebruik maar eerder die wyfie as jy kan.
Al is dit dan ook nou net omdat ma altyd reg is, maar eerder omdat jy moet leer om raad te volg van die wat weet.

 

Besides, wanneer daar met kos gewerk word, moet jy heilige respekte hê vir dit wat daar ingaan, en wanneer jy dan nou ‘n mannetjie instede van ‘n wyfie gebruik, en dit draai ‘n gemors uit, moenie vir my kom sta’ kyk met ‘n afdraend gesig soos ‘n waterbob’jan nie.
Jy het mos ore.

 

Ma se broodpampoen in ma se woorde
Ek sny my boerpampoen in blokkies en gooi dit in die pot saam met genoeg kaneelstokkies, so drie, maar jy moet niks water opgooi nie. Maak maar soveel soos jy mense het wat gaan eet, onthou pampoen kook baie weg en boerpampoen is maar aan die waterige kant.

 

Stel die gasstoof baie laag en as dit ‘n gewone stoof is, so op nommer 2 of drie.
Gooi dadelik jou suiker op – ek kan nou nie sê hoeveel nie, party mense hou van baie soet en ander nie – dit hang maar af van hoe jy daarvan hou.

 

Ek roer nie aan daai pampoen nie, as hy warm word en hy maak water smelt die suiker outomaties daarin en dan laat ek hom so ‘n rukkie gaan.
 

Pampoen kook vinnig, maar hou net dop om te kyk dat hy miskien nie brand nie. As ek sien dat hy begin drogerig raak, gooi ek so ‘n skerfie botter op, omtrent ‘n desertlepel.
 

Die grootste geheim van pampoen kook is dat jy nie aan die ding moet karring nie. Moet hom nie roer nie, want word hy ‘n papsel. Hou hom tussen braai en kook en draai eerder die vuur laer as dit lyk of hy gaan brand.
 

Hoe lus jy vir die brood is en hoeveel water hy getrek het gaan bepaal hoeveel brood jy ingooi. Breek die brood in stukke, ek sal sê so drie snye om mee te begin. Jy sal naand sien dit lyk of die pampoen wil vasbrand, en hy maak so ‘n taai laag onder in die pot, maar moenie roer nie. As jy regtig dink hy gaan brand, dop hom so saggies om dat onderkant bo is dat die anderkant se stuk ook so lekker bruinerig word. Jy sal voel hy raak so taai, omtrint soos tammeletjie. Jy wil hom nie te hard braai nie, dan word hy ‘n propperse taaispul, maar jy sal sien die pampoen raak so deurskynend.
Dan eet jy vir hom lat jou tanne klap.

 

Ouma Neethling se Nuy vroe’pampoen soos ma dit onthou
Vat een lang vroe’pampoen – dis nou ‘n marrow, maar ‘n uitgegroeide ene.
Skil hom en sny hom in blokkies.

 

Nes met die boerpampoen, gooi jy hom in die pot met suiker, kaneel en ‘n klein bietjie sout. Hy gaan bietjie watering word, maar dit maak nie saak nie. Sodra hy gaar is, skep hom uit in ‘n oondpan en sit klontjies botter bo-op.

 

Dan maak jy vir jou ‘n trapsel deeg, nes pannekoekdeeg, maar bietjie dikker, met meel, melk, eier en ‘n knypie sout. Die deeg wat oorbly kan jy olie en nog water byvoeg en pannekoek mee bak.
 

Gooi die deeg bo-oor die vroe-pampoen en steek in die oond so teen 180 grade. Hou hom maar dop, want so van 20 minute se koers af sal hy begin regkom. Jy sal sien as hy nie meer drillerig is nie, dan is hy reg.

 

Antjie Somers se broodpampoen
Hierdie is so maklik soos kan kom.
Jy vat ‘n bakskottel en pak als daarin.
Ek spuit dit eers non-stick, want vir die geskuur agterna het mens nie krag of lus nie.

 

Pak die blokke of skywe pampoen onderin die bak.
Gooi jou suiker oor en breek die brood in stukke en pak dit bo-op. Ek gooi sommer nog ‘n bietjie suiker oor die brood, net vir die wis en die onwis. Witbrood werk die beste. Gebruik genoeg brood.

 

Sprinkel kaneel oor en stip met klontjies botter. As jy dit ekstra lekker wil hê, werk sommer ‘n hand of twee vol sultanas of rosyntjies in of gooi dit bo-oor.
Bak teen 180 grade tot goudbruin van kleur.

Die Pampoenstalletjie net buite Worcester
- so neffens Nuy.
Ek het die boer in Worcester raakgeloop
- die pampoen was oppad skou toe.
bottom of page