Naai, daai’sie fair nie
April 11, 2014
“Sê vi ma eks nou da,” is tale wat nie uit ons monde sou kom wanneer daar enige ding op tafel gesit is met ‘n murgbeen nie.
Murg was volop in ons familie, orries-volop met tye, maar dit het niks aan die saak verander nie.
As murg betrokke was, was jy eerste aan tafel, in fact, jy het al lankal soos ‘n brommer daar rondgedraai onner ma se voete, want murg was baklei-goed.
En boeta, jy moes kon fight soos ene wat op medical aid is as jy ‘n kans met daai stuk murg wou hê.
Ma vertel van die dag toe sy amper haar nig Teresa se tong afgeslat het met ‘n klip. Die gebruik was om na ete met die binnebeen van die boudvleis werf toe te gaan om hom in die helfte te kap. Dis nou sodat die twee wat eerste hul kleim oor daai been uitgespreek het, elk hul deel van die murg kon kry.

Die dag, terwyl ma die been nog so kap met ‘n klip, skiet die hele stuk murg mos toe uit. Nig Teresa, wat plat gelê het om te sien dat die ding regverdig verdeel word, vat toe haar kans. Met ‘n tong wat vinniger is as ‘n Kullid-klong s’n op ‘n Vrydag, lek sy daai biessigheid van die rots af, net toe die klip sy fyndraai vind. Ma vertel in daai oomblik het sy helder gesien hoe gaan Teresa sonder woorde haar toekoms tegemoet, so sonner tong.
Was dit ma se suster ant Netta, sou sy haar geslaan, gebyt én haar boeke geskeur het, sê sy, maar nig Teresa se suster, Elizma was ‘n regte klein bakleigat en sy sou vir ma, wat die jongste van die spul was, geslat het lat sy omlê.
“Tot vandag toe het ek nog ‘n nimmereindigende lus vir daai stuk murg en dit was net van verslaent'geit en skaam'geit dat ek nie daai dag gehuil het nie,”
Ek weet nou nie van ander kinders nie, maar ‘n onregverdige daad soos ‘n nig of ‘n neef wat jou murg so skaamteloos steel, was ‘n ding wat ons harte vreeslik geraak het. Dit was, heel moontlik, ook ma se eerste diep ervaring van selfbejammering wat kos aanbetref. Slaggoed en goeters wat uit die aarde groei was daar altyd oorvloed van op die plaas, depressiejare en goiingsak-panties ten spyt, maar ‘n murg is darem maar in ‘n klas van sy eie.
Nou komende Sondag, 13 April, word ma 71, maar die memory van daai onregverdigheid het haar nog nie gelos nie. Vandat ek ‘n klein dogtertjie was, hoor ek keer op keer van hoe sy daai heilige Sondag haar murg so moes sien gaan soes ‘n kind wat deur’ie welfair gevat word – en nig Teresa is hoeka al onner die kluite.
Ek wil nou nie iemand anders se tong in gevaar stel nie, daarom bly ons maar by die murgbene wat reeds gesaag is. Hier is nou vir jou murg – op sy eenvoudigste en ook op sy lekkerste. Hieraan sal jy eet lat jou bekkie klap soos nat wasgoed!
Vetterige lekkerte op sy beste
Pak murgbene op ‘n oondplaat en bak teen 180 grade tot gaar en smeer op roosterbrood.
Maal sout en heel peper bo-oor en eet tot net voor jy naar is.
As jy dit ekstra lekker wil maak, krummel bloukaas oor voor jy dit in die oond steek en bedien saam met uiemarmelade – dis ‘n smaaksensasie soos min!
Spesiale murg
Gooi so vier desertlepels olyfolie in ‘n swartpot met twee eetlepels botter. Braai twee uie, knoffel en ‘n teelepel gemengde of Italiaanse kruie saam (jy kan ook vars origanum, basilie en pietersielie gebruik).
Gooi ‘n ¾ koppie rooiwyn, half koppie kookwater waarin een blokkie hoenderekstrak opgelos is en sout met baie gemaalde swartpeper by en meng.
Sit die murgbene, so 15 of so, regop tussenin en prut tot gaar sonder om te roer. Jy sal sommer sien wanneer dit sag is. Die vloeistof moet weggekook wees. Skep die murg uit en bedien op roosterbrood saam met die uiemengsel.
Jy kan die hele spul net so in ‘n oondskottel met ‘n deksel ook pak. Laat die kruie uit en sit ‘n paar takkies roosmaryn bo-op die murg. Gebruik dan ook net die helfte van die olyfolie en die helfte van die vloeistof. Bak teen 180 grade en loer so na 40 minute of dit reg is. Dis so lekker, dit moet sonde wees!
Alles-in-een sonder fieterjasies - Gort-en-groentesop met murgbene
Bestandele:
1 kg sopvleis met murgbene en sommer nog ekstra murgbene vir die lekkerte
Fyngekapte uie
Twee aartappels, twee radyse, een tamatie en een of twee wortels, gerasper of in stukke gesny
Seldery – sommer so ‘n koppie en ‘n half
Enige ander groente van jou keuse soos blomkool of broccoli boompies
So ‘n handvol vars pietersielie as jy het, of ‘n vatsel gedroogde pietersielie
Een en ‘n half koppie 4-in-1 sopmengsel (spoel dit goed af onder lopende water)
Een blokkie hoenderekstrak
Pakkie Bief-en-Groente of Bruin uiesoppoeier
Sout en gemaalde peper na smaak
Metode - prutpot:
As jy ‘n prutpot het, kan jy alles, behalwe die soppoeier op een slag in die pot sit, genoeg kookwater byvoeg om die pot amper vol te maak, want jy moet onthou dat die sopmengsel baie water gaan absorber. Skakel hom op LOW en gaan slaap. Die volgende oggend kan jy jou sop geur met sout en peper en die pakkie soppoeier met een koppie water aanmaak en inroer. ‘n Goeie skeut Worcester Sous maak dit ekstra lekker.
Op die stoof:
Kook die vleis en bene met genoeg water om dit te bedek tot sag. Hou maar dop, want die water kook vinnig weg.
Voeg alles, behalwe die soppoeier by met genoeg water en verhit tot kookpunt. Sit die deksel op, draai die plaat laag sodat dit kan prut. Vul gereeld aan met water anders sal die sopmengsel droogkook en vasbrand.
Wanneer die gort gaar is, meng die soppoeier deur. Indien dit te dik is, verdun met water. Geur met sout, peper en Worcester Sous na smaak.
As jy wil, kan jy net na die vleis saggekook het, dit uitskep, die senings en vleis van die bene verwyder en kleiner sny voor jy dit, saam met die bene terugskep.
Die bene moet eintlik terug in die pot. Daar is niks so lekker soos om ‘n murgbeen uit te suig nie, maar as jy nie daarvan hou nie, kan jy die murg verwyder en net so ingooi.