Voorwoord - Dikge’vriet
Kos het nog altyd ‘n groot rol gespeel in ons familie. Van my vroegste onthou het met kos te doene gehad. Vroegoggend, nog donker buite, het een van aia Vink se nageslag met haar maer arms al die blikemmers met lou melk op die kombuistafel kom neersit. Vars van die beeste. Dit het sommer sulke geel skuimbolle gestaan soos geen nuwerwetse cappuccino masjien dit kan namaak nie.
Lag en gesels het altyd deel uitgemaak van die vreeslike ge’vrietery, soes iemand wat van sy eie dood gehoor het.
So was dit dan. Wanneer ek wakker geword het, was van my eerste gewaarwordinge die laggende stemme van my mense, die swaar reuk van moerkoffie en vars gebakte brood, die wind deur die akkerbome en Marta wat haar kop los-los soos ‘n ou tuinhekkie agter die berg uitsteek.

In die kombuis was hulle altyd doenig, een of twee by die stowe en oonde en nog een of twee langs die tafel. Die ouma en dogters.
Soos CJ Langenhoven se kindergedig dit mooi oorvertel “Sy sê sy is nie honger nie, maar magtig, sy kon vreet!”
Bakkies met groot stukke glas-geel waatlemoenkonfyt, waarvan die regte naam deesdae verbode is, was girts-garts gekou so deur die kwinkslae heen. Brode het blinkrond in ‘n ry gestaan en die geur het ‘n stukkie van die vallei vol gehang.
Die gelag en deurmekaar gesels wat eie is aan my mense.
Afval, beestong, sult, druiwekonfyt, dik botter, tuisgemaakte kondensmelk, melkkos, botbotie, Jan Ellis poeding, groentesop met murgbene, broodpampoen, snoek en patats en kaiings. Te veel om te noem.
Deur die jare het ek resepte gebedel, geloer, gevra en geleer en diep in die kamers van my hart opgegaar vir uithaal wanneer die kook-spook my pak elke dan en wan. Alhoewel ek vandag 'n pescetarian-dieet volg (geen vleis, wel seekos) en my een kind vegan is (geen diereprodukte), sal hierdie altyd deel wees van my onthou - dit is in my nersderm ingewerk soos 'n ingroeitoonnael.
Hier gaan ek van tyd tot tyd met julle van die resepte deel wat eie aan ons Klein Karoo-Bolanders is. Als van tuisgemaakte kaas tot perlemoen en volstruis.
Ek sal ook my eie maaksels en Capie-sêgoed tussendeur gooi net vir die wis en die onwis.
Mag die ‘n plek word waar jy gereeld wil kom draai, en mag die lag rondom jóú tafel altyd spontaan en sonder pretensie wees, sodat jou kinders dit ook eendag dikwels met liefde en nostalgie uit hul binnekamers wil gaan haal – so dikwels dat die stof nie vatplek daar sal kry nie, want die voorhuis word gereeld gevee.