Soe' speel djy met djou ma se trane
As ma eers die more in die deur kom staan het met ‘Julle wil nou weer lê tot die son in julle gatte in skyn!’, dan het ons geweet, vandag is die dag, vakansie of te not.
In my kinder-kop het ek vas geglo dis van jaloesie wat ons alewig voor die hoenners pis uit die kooi moes uit. Jaloesie omdat al wat grootmens is mos daai tyd geglo het as jy ‘n minuut later lê as wat jy moet, is jy sleg. En as hulle op moes jy ook op.
Dis Desember en ons is by ouma en oupa Conradie se strandhuis in De Kelders neffens Gansbaai. Só uitgevreet is ons al aan perlemoen en allekreuk dat ons dit nie nog ‘n dag in die oog kan kyk nie, maar perlemoen sal jy eet, want al wat pa en oom Theo die laaste paar dae inkatrol is sandhaaie en g’n mens wil met hulle bodder nie.

Die wye oseaan vanaf ouma en oupa se stoep.
So gebeur dit dat ek en nig Esmé tussen die perlemoen gevrietery agterkom hier is ‘n ander ding aan’t kook in die kombuis. Ouma se Jan Ellis poeding.
Dis maar dieselle as malvapoeding, maar die skoonheidstitel wat ouma op 16-jarige leeftyd mee vereer was in Worcester, die een van Brandy-Queen, het blykbaar in haar nersderm gaan vashaak, want tot vandag toe nog het sy ‘n besonderse verhouding met die voggies.
Da was gewoonlik meer Koos-Wye-Voete op haar terte uitgegooi as wat een dronk mens op ‘n nugter dag kon handle.
Ja-nee, daai klas drank was nie vir ‘n man met ‘n dun kopvel nie, maar wat weet ‘n snotneus kleintjie nou van die gevolge van so ‘n tert?
So gebeur dit dat ek en nig soos gesoute kleptomane daai tert stuk vir stuk begin wegdra.
Ons dra dit weg met lang vingers. Ons dra dit weg agter ma se rug uit. Ons dra dit weg verby die punt van die counter waar ma besig is om die perlemoen wat die oggend uitgehaal is, met ‘n vleishamer des moers te moker.
Voor ons however by die kombuis kon uit, was dit al opgevriet, en was ons weer terug in daai bak in. Hoeveel maal ons so ge-jintoe en ge-hintoe het, kan ek vandag nie meer onthou nie.
Ouma Conradie is die skoonma van ons ma’s, maar soos ek sê, wat weet ‘n snotneus-kleintjie nou?
Hoe sal ons nou geweet het van die nerf van ‘n draad wat tussen ‘n skoondogter-en-skoonma hang en dat jy net jou aansit-maniere voor ‘n ouma-skoonma moes uithaal?
Lekker voor innie koor issit ok nie lank nie, of ek en nig is net té slim vir woorde. Minute later hét ons toe ook nie meer taal of tyding nie, só naar dat nog net ons nerves intact gebly het soos ons sulke strepe orries.
Nou kyk, met ma het jy nie geneuk op so ‘n dag wat sy jou uit die kooi gejaag het nie – sy was gemaak van ‘n anne klas klei waarmee jy nie wou speel as jy skoonma-tert geklepto het nie.
Iewers op ‘n kol hoor ons net sy sê vir ant Eveline ‘Wiet jy, ek wil my nou nie vi erg vi die kind nie,’
Of nig Esmé se gatvalle ooit deurgeloop het, kan ek tot vandag nie onthou nie, maar ek weet sy moes kamer toe saam met iemand met ‘n stem like a voice.
In my arrige toestand het ek gepoog om weg te kom, maar sekondes, toe wéét ek – dis hos-tokkelos.
My oomblik van waarheid het aangebreek toe ma vir my kry, daar tussen die hotnosvye, met die wye oseaan wat voor my uitstrek.
Ek wou nog mik om af te sit see toe, toe skrou sy vir my hier van neffens my linkeroor af ‘Ek gat jou velle van jou gat aftrek, hoo jy vir my! Kom nóú hieso, of wil jy hê ek moet jou self da kom haal?’
In daai oomblik was dit dyd’lik – ek sou moes twist waar ek nie kon jive nie, maar stil gat ek’ie ko sta’nie.
Dink ek vandag daaraan is daar een ding wat bo alles uitstaan, selfs bo die drag slae.
Dis die jammerte omdat ek ‘n Jan Ellis geneuk bo perlemoen verkies het!
Ma, ek is só, só spyt oor elke perlemoen en allekreuk wat ek tussen die hotnosvye weggegooi het. Vandag sal ek twist én jive en álle brandy-queen poeding afsweer tot in álle foreverness – as ek nog net eenmaal, net een hemelse maal, my tanne in ma se ‘smelt soos botter’ perlemoen kan inslaan. Is true!
Ma se perlemoen in ma se woorde
Jy moet nou innie see in en jou perlemoen uithaal. Die gekoopte goed is sleg, maar lately het jy ‘n permit nodig.
Jy laat lê hom eers ‘n rukkie dat hy kan ontspan, anners is hy net ‘n taai sening.
Dan druk jy ‘n skroewedraaier tussen die vleis en die skulp in, en haal vir hom uit.
Jy kan messie ook vat, hy’t mos net een spier wat jy afsny.
As jy hom uit die dop uit het, dan vat jy hom water toe. Hy’t mos sulke tentakeltjies om sy kante, en is mos so groen slymerig op die kant wat teen die rots vasgesit het. Terwyl jy so innie water staan, skuur jy vir hom teen ‘n rots tot al die tentakels en die ander slymerige kant ok af is.
Jy skrop vir hom góéd tot hy spierwit is, so wit, so wit soos die spook van Skimmelperd-pan!
Dan vat jy hom en kook hom ‘n lekker lang ruk in ‘n drukpot – sommer vir ‘n hele rukkie want hy is hel taai. Wanneer jy hom uithaal sny jy vir hom in skywe, maar oor sy plat kant, sulke plat skywe en dan werk jy sy sake vir hom onder daai vleishamer.
Gooi sommer genoeg suurlemoensap op – jy slat as’t ware daai suurlemoen in hom in, maar jy tik vir hom goed tot dit vir jou voel hys nou reg – hy sal omtrint lyk soos tenderized steak, net met groter gate want jy slat vir hom harder.
Gooi hom sout en peper en rol eers in meel en daarna in eier en bak in ‘n warm pan met bietjie olie. Nie te diep olie nie, net ‘n bietjie, en jy draai hom ook gedurig.
Hy gee dan vir jou dai groenmielie reuk.
Dis ‘n besondere smaak, in fact, ek is nou so lus as ek nou een kry, vriet ek vir hom net so uit sy dop uit, maar dietjies wat jy nou koep is so klein soos ‘n 50c stuk – daais is so groot soos jou hand.
En as jy klaar is, dan ga’ sit jy langs daai pot en vriet jou oor ‘n mik!
Jan Ellis alias die Brandy Queen poeding
Los 5ml koeksoda en ‘n knippie sout op in 125ml melk.
Roer 1,5 kop bruismeel, ‘n halwe koppie suiker, twee eiers, vier desertlepels appelkooskonfyt en so 30 ml margarien of botter en ‘n knypie sout by die melk-mengsel.
Bak teen 180 grade vir ‘n halfuur.
Maak die sous deur ‘n koppie water, ‘n koppie suiker, ‘n koppie botter en ‘n koppie room saam te kook. Sodra die suiker opgelos is, haal van die stoof af en roer twee teelepels vanilla ekstrak by.
Gooi die sous oor die warm tert.
Indien jy ouma Conradie se style wil uithaal, gooi jy soveel Koos-Wye-Voete bran’newyn by die sous as wat jou gestel kan hanteer, maar ek sal maar net by sprinkel bly, as djulle wiet wat ek bedoel!

Die perlemoen wat hier uitgehaal is, kon ons later nie meer in die oe kyk nie.
Regs steek ‘n stukkie van die stoep uit.
