top of page

Vriet en wies tevrede

Die Kullid sê-ding ‘Sorry issi kaalgat voëltjie,” het op daai allerverskriklikste Sondag nuwe betekenis gekry langs ons tafel. Ek en boeta sit en tjank snot en trane, so sorry is ons vir onsself en vir dit wat ons moet aanskou, want voor ons lê hy, reg onner ons neuse, die kaalgat voëltjie.

 

Deur die gebiddery heen is dit ‘n geween en gekners van tanne, van daar waar die eerste 'Dankie' beginne tot annerkant 'Amen' uit.
Gister nog het hy, hoofhaan oor die ander geveerdes, op die werf rondgehol en vir al wat ougat skrophen is nekkie styf gemaak, en nou lê hy hier… exposed soos die helle’re son daar buite.

 

Teen die tyd dat kleinsus haar melktanne in ‘n vlerk inslaan, hang die snois al bowties om ons nekke van tjank.
Hoe kán hulle daar sit en aan Haantjie se dye kou asof hy nooit was nie?
Ons skrou later só dat ons hoes en ons asems wegslaan. Niemand het ons gedwing om deel te hê aan die dikke dye van Haantjie nie, maar ons moes op ‘n stadium die tafel verlaat, met die dreigement wat oor ons gatvelle hang: “As jille nate jik moet jille aangaan hoor!”

 

Of daai nate toe ooit gekrap is, kan ek nie onthou nie, ek weet net die getjank het vir ‘n geruime tyd nie end gekry nie.

Ja, Haantjie was oorlye.
 

Ook maar oor sy eie balhorige oo’lamsgeit, want nag vir nag het hy almal wakker gekraai. Vanaf een-uur in die more tot digby sonsopkoms het hy geskree soos ‘n banshee op die Ierse vlaktes.
 

Haantjie het ‘n spesiale plek in boeta se hart gehad, en alhoewel hy nou nie so vreeslik diep in my hart was nie, voel ek ander se pyn aan asof ek saam in daai ene se skoene trap. Dis dié wat ek besluit het om soos ‘n roubeklaer saam te tjank, oor die aangevoele seer – en natuurlik ook om my solidariteit met my boeta se ontevredenheid te wys.

 

Vir lank daarna het ek en boeta nie ons lippe aan dooie werfvoël gesit nie. Ons wip-gevangde of kettie duiwe, wat ons self buite gebraai het, en wat nooit ordentlik gepluk was nie, was ‘n ander saak.
 

Ma vertel, nou dat ons groot is, dat sy ook maar die vleis gesidestep het daai Sondag.
Ons het haar blykbaar in selfverwyt en in naarheid in geskrou, sê sy – en op haar dae was ma is ‘n vrou wat ‘n slagding single handedly met ‘n handbyltjie kon opkap.

 

Die nagmerrie-onthou ten spyt, bly so ‘n bruingebraaide kaalgat voëltjie darem maar ‘n lekkerte - of hy nou duif of hoenner is.
Vir eidere ene wat lief is vir voël, hier is ma se baie eenvoudige, maar lekker potgebraaide skrophoenner.

 

Skrophoenner in ma se woorde
As jy ’n skrophoenner wil gaarmaak, dan hardloop jy en ga' vang een as jy een op die werf het, maar vandag se dae kan jy dit gaan koop onner die naam free range hoenner.

 

Hy moet ontdooi wees. Dan gaan jy nou en dan vryf jy hom so lekker in met ‘n soutjie en lekker vars botter en bietjie hoenner spesserye. Gooi van daai spesery in sy kefoeffel ook in en vrywe dit onner sy kieliebakke ook. Gooi olyfolie in jou swaarboompot en laat dit warm word – dan vat jy hom en sit hom daarin. Jy kan ander olie ook vat, maar ek is mos nou ‘n nuwerwetse gesondheidsvrou! (“hemele behoede ons,” dink ek, Antjie Somers, so in die luister.)
 

Jou vuur moenie so wees dat jou hoenner ga' aanbrand as jy hom insit nie, maar warm genoeg, jy sal hoor hy maak so ‘tssshhht’ as jy hom in die pot sit. Jy kan hom in stukke ook sny as jy wil.

Nou braai jy hom reg rondom bruin en dan druk jy ‘n ui in sy kajuit in want dit gee ‘n lekker geur.

 

Stel nou jou hitte af – die gasstoof so op 1 en met die elektriese stoof so op 2. Hang af watter tipe stouf jy het – party is mos warmer as ander. Sit nou die deksel op, maar jy moet hom dophou.
Moenie water opgooi nie, tensy dit lyk of hy dalk gaan brand, dan gooi jy baie, baie min watertjies by.

 

Haal die deksel af wanneer die hoenner sag is. Stel die stoof bietjie vinniger en dan draai jy hom in die rondte sodat hy bruin bak in die sousie wat hy getrek het. 

As jy gewou het kon jy in die helfte van die gaarmaak jou aartappeltjies insit dat dit so gaar word in die sous.
En dan laat jy jou hakke vlam vang tafel toe .

 

 

Lang hoendergereg met Bacon Kips
Kook so 1kg hoender sag in heelwat water saam met ‘n fyngekapte ui.

Verwyder die bene en maak die vleis fyn.
Vul die water aan tot 900ml en meng met ‘n pakkie sampioenroom-soppoeier.
Roer ‘n halwe koppie chutney, een koppie mayonnaise, een en ‘n halwe koppie gaar rys by.
Krummel ‘n pak chutney skyfies by en roer die fyngemaakte hoender in.
Meng ‘n pakkie gesnyde sampioene deur en bak teen 180 grade vir 30 minute.
Haal uit, krummel die Bacon Kips oor en druk terug in die oond vir 15 – 20 minute.

bottom of page