top of page

Groot ge’vriet oppie nipper
December 24, 2015

Krismis in my Kaapse familie was nie sommer só nie.
Elke jaar dieselfde storie – vooraf het my ma en haar susters altyd die slim idee gehad “dis net ‘n ligte lunch vir Krismis”.

Dié gedagte het nooit lank gehou nie, want na die tyd was dit altyd dieselle – tafels wat se pote staan en bewe het soos ‘n mens met ‘n maagaandoening net om daai skottels vol spyse regop te hou.

 

Hierdie geneuk is ‘n ding wat ek tot vandag toe wens ek uit my sisteem kan kry – die ding van nipper.

 

Op die nipper moet daar besluit word om ‘n dag daarvan te maak, al is daar lank reeds anders bespreek.
Op die nipper moet ons terstond hierheen of daarheen, al is daar reeds ‘n week terug ooreengekom ons bly by die huis.
Op die nipper moet daar nie net slaaie en koue goeters wees nie, maar ook al wat ‘n kooksel en maaksel is waarvoor ‘n warm vuur nodig is.

 

So begin die nipper hulle mos toe weer bekruip een Krismis in die vroeë 80’s.
Ant Anna, ant Netta en ma se besluit oor die ligte Krismis lunch het iewers deur die nag sy gat gesien.
Dit help ook nie dat Ouma Neethling ook haar tanne te spoel het oor die gavrietery nie, want soe word die lys net langer en die disse teel vinniger aan as wat een klong ‘n anner onner sy ma se rok kan uitskel.

 

Ma is nog besig om my Krismisrok se val aan te werk waar sy en die susters wydsbeen sit en klets op die vloer, toe is dit só:

“Ek dink vi incase moet ons nog so ‘n paar tonge regkry…” en dit was die begin van die groot vreet. Alles net om ‘n uur na aansit te moet hoor “Eks nou dikge'vriet.”

 

Alles moes alewig in die oortreffende trap.

Of dit nou die ligte lunch was of die maer-word waaroor die susters daarna tot in Junie-maand oor die foun sou gesels.

Of dit nou net die ry oor die berg Nuy toe was en of dit die afsit beach toe was – alles moes erger en meer  en alles moes saam gepiekel word. So veel as moontlik word ingepak – als behalwe die kitchen sink. Het alewig gelyk of mens oppad is land uit.

 

Ek het die Krismisrok gehaat. Die ding se val was te lank na my sin en terstond besluit ek om hom by te kom met ‘n skêr. Teen die tyd dat ma agterkom ek het die val des moers geknip het ek klaar die storie reg dat dit boeta was.
“Nou praat jy mos warme stront, ek ga vi jou slat tot in neks wiek in,” is al wat ek van ma hoor terwyl my gatvelle een vir een afgetrek word. Dit ten aanskoue van al wat nig en neef is.

Nie dat dit ‘n vreemde verskynsel was nie, want ons kleintjies se gatte het maar so links en regs gebrand sonder enige respek vir die kind se gevoelingte. Die grootmense het seker maar geredeneer as ons dan nou die nonsens kan aanjaag ten aanskoue van almal, kan ons gatte dan ook maar ten aanskoue van daai einstes brand.

 

Dit klink miskien nie so nie, maar hierdie ‘Voorhuis Vee’ van my wat Krismis aanbetref hou baie warmte en mooi herrinneringe in – en alhoewel ek die nipper-ding geërf het, het die groot vreet gelukkig nooit vasgehaak in my nersderm nie.

 

Self maak ek nooit ‘n afferingte van Krismis nie. Ek probeer die dag so stil moontlik verby kry en sal alles in my vermoeë doen om nie ‘n special stuk klere aan my lyf te hang nie.

Geen groot vreet, geen onophoudelike gepraat van donkermôre tot donkernag nie.

Of dit nou by ma-hulle in Riviersonderend is, of ek op die strand lê en of ek by my huis moet wees – ek gaan hom so stil-stil deur

– in die oortreffende trap eenvoudig, al beteken dit ek moet dan en wan onttrek en eenkant op my eis gaan sit vir ‘n minuut of twie.

 

Was my (volwasse) kinders nie by die huis nie, sou ek nie eens kos gemaak het nie. Ek sou bloot met ‘n boek in die bed gebly het. Gelukkig het die biessigheid my seun en dogter ook verbygegaan so ons vat die dag soos ‘n water matras – heel aanpasbaar maar sonder enige waves.

 

More is dit Krismis en g’n winkel het my nog gesien nie, want as jy my op die daad beneuk wil hê moet jy my vertel ek moet gaan shop. Die kluisenaar in my laat my nie toe om saam met die massa in die malle stroom van shopping te beland nie, veral nie Krismis-shopping nie.

 

Of jy nou soos my familie ‘n barrel Kentucky kan opvriet en nog jou vingers oek aflek en of jy op en af jintoe-en-hintoe vir shopping en of jou Krismisrok se val op jou gatspiere wêk – geniet dit. Merry Krismis!
 

bottom of page